news

DAVID KRAMER

October 16, 2019

Toe ek ses jaar oud was het my oupa vir my ʼn viersnaar-ukulele present gegee, maar dit was eers in standerd vyf dat ek vir die eerste keer regtig begin kitaar speel het. My pa het ʼn meubelwinkel gehad met kitare wat teen die muur gehang het en toe eendag bring hy vir my een van die bakkitare saam huis toe. Alhoewel ek toe nog nie eintlik kon speel nie, het een van my broer se vriende wat so vyf jaar ouer was as ek, my die basiese akkoorde geleer.  

Mens het verskillende kitare in jou lewe, jy koop hulle en verkoop hulle dan weer. Maar toe ek teruggekom het van Engeland af in 1974, was dit met die idee om my eie klank te vind. Die langspeelplaat The Guitars of Africa deur Hugh Tracey, wat kitaarspelers orals in sub-Sahara-Afrika in die 1950’s opgeneem het, het my baie geïnspireer. En ek wou ʼn klank skep wat anders was as die tradisionele, Kaliforniese folkmusiek wat almal in daardie jare besig was om na te aap. Ek wou my eie paadjie inslaan. Want ek het geweet: jy sal nooit Van Gogh kan wees as jy net sy styl naboots nie. Jy kan van hulle leer. Maar as jy uniek wil wees, moet jy iets anders doen.  

En toe koop ek vir my hierdie kitaar. Ek kan nie presies onthou watter jaar dit was nie, maar dit was iewers in die sewentigerjare. Ek het dit nog in Langstraat in ʼn pandjieswinkel gekoop vir R20. Dit is ʼn goedkoop kitaar, sonder ʼn naam, maar dit is die tipe kitaar wat baie van die Zulu-Maskandi-spelers gebruik. En dit is wat ek gesoek het, want soos ek gesê het, was ek in daardie jare baie gefokus op klanke uit Afrika.

Ek het besluit om die snare van die kitaar te verander na die tradisionele manier. Ek het die drie dik snare verwyder en drie dun snare, soos die onderste drie, in hul plek opgesit. Maar die kitaar word steeds op die tradisionele Spaanse manier gestem. Die verskil met die nuwe snare, is dat die klank baie skerper is, al word die snare baie pap gestel.

Al die Karoo se kitaarspelers stel hul kitare so pap. Ek dink die rede daarvoor is om hul snare te beskerm, want hulle kan nie maklik snare in die hande kry nie en die snare is duur. Dus speel hulle die kitaar pap. En die gevolg is hierdie unieke klank wat die kitaar maak.

Ek moet ook net noem, mens sukkel om die kitaar te stem as hy so pap is, want die snare is so fyn en gaan maklik uit. Hy is nie maklik om op die verhoog te gebruik nie.

Ek het net twee liedjies ooit met dié kitaar opgeneem. Die eerste een was “Dawid Ryk”, wat op die Eina-langspeelplaat verskyn het. En die ander een – mens kan die unieke klank van dié kitaar sommer dadelik hoor aan die begin van die liedjie – se naam was “Meisie sonner sokkies”. Hierdie twintig-rand-kitaar lê my baie na aan die hart.

David Kramer